Jong Hankey-talent teken kontrak met Blou Bulle o.20-span

06 Mar 2025
Media Releases
Jaden Kapank

Jaden Kapank

Hankey - Van die strate van Phillipsville in Hankey tot die hoë-energie velde van professionele rugby, is Jaden Kapank se reis niks minder as inspirerend nie.

Op elfjarige ouderdom het Kapank se passie vir rugby begin, en nou, agt jaar later, het sy toewyding en talent vrugte afgewerp. Die 19-jarige het 'n kontrak losgeslaan om vir die Blou Bulle onder-20 span te speel.

Kapank, ‘n aanhanger van die Springbok-rugbyspeler Sacha Feinberg-Mngomezulu, het sy rugbyloopbaan begin deur in die strate en vir verskeie skoolspanne te speel. Sy natuurlike vermoe?ns en harde werk het nie ongemerk verbygegaan nie.

"Ek voel geëerd dat ek raakgesien is en die kontrak by my gunsteling span te ontvang. Ek is 'n Blou Bulle-ondersteuner. Hulle is 'n sterk span met uitstekende spelers," het Kapank met trots gesê.

Die jong sportman, wat in die posisies van slot en flank uitblink, het die aandag van keurders getrek tydens wedstryde in die Boland en by die prestige-ryke Wildeklawer-toernooi in Kimberley, waar hy as Speler van die Toernooi aangewys is.

Hierdie maand het Kapank 'n tweejaar-kontrak met die Blou Bulle onderteken, wat 'n belangrike mylpaal in sy ontluikende loopbaan beteken.

Die Blou Bulle o.20-span gaan in Julie na Thailand reis om deel te neem aan die Next Gen Blitz 2025. Terwyl Kapank sy familie, sy gunsteling disse en sy tuisdorp sal mis, bly hy dankbaar vir die geleentheid om internasionaal rugby te kan speel.

"Ek is dankbaar vir die geleentheid om internasionaal rugby te speel en om – deur God se genade - my tuisdorp Hankey trots te maak," het hy gesê.

Jaden se ma, Cindy Timoti, is oorstelp van vreugde oor haar seun se prestasie.

"Ek is dankbaar dat God my seun die talent gegee het om sy droom van rugby speel te leef. Ek is ook dankbaar dat hy Hankey en Kouga op internasionale vlak kan verteenwoordig," het Timoti gedeel.

Kapank het Hankey Prime?re Skool bygewoon, maar sy rugbyreis het by Gamtoosvallei Primêre Skole begin, waar mnr. Shaun Barnard sy talent help ontwikkel het. Hy het later 'n beurs ontvang om Drostdy Tegniese Hoe?rskool in Worcester by te woon.

Timoti onthou hoe trots sy gevoel het toe Jaden haar vanaf Kimberley gebel het met die nuus oor sy geleentheid by die Blou Bulle.

"Hankey is 'n klein dorpie vol rugbyliefhebbers. Die jong seuns in ons dorpie hou van rugby en hulle styg uit. Ek is trots op my seun en dank God dat Hy my gebede verhoor het. Ek leer hom en sy broers en suster om nederig te bly, God te vrees en altyd te bid," het sy gesê.

Onlangs het Timoti en haar man Stanley, Jaden na die Blou Bulle-instituut in Limpopo vergesel, waar hy sy vaardighede verder sal slyp en sy rugbydrome sal nastreef.

Kouga se Uitvoerende Burgemeester, Hattingh Bornman, het sy gelukwense aan die jong rugbyspeler oorgedra.

"Jaden Kapank se prestasie is 'n bewys van die talent en deursettingsvermoë wat in ons gemeenskappe floreer. Sy reis van Hankey na die Blou Bulle se o.20-span is 'n inspirasie vir opkomende jong atlete in Kouga.

"Ons is ongelooflik trots op hom en wens hom groot sukses toe terwyl hy hierdie opwindende nuwe hoofstuk in sy rugbyloopbaan aanpak."