Hankey blus Guy Fawkes-vure

04 Nov 2009

DIE Kouga-munisipaliteit het verlede week hande met die Hankey-polisie en Gemeenskapspolisieforum geneem om ’n nuwe Guy Fawkes-tradisie op dié dorp te begin.

Stasiekommissaris, supt Ezrah Sefaley, sê dat Guy Fawkes oor die jare ’n groot kopseer vir beide die polisie en vredeliewende inwoners geword het.

“Motorbande is gebrand, strate is blokkeer en rommel is rondgegooi, met die gevolg dat eiendom dikwels beskadig is en beide mense en diere beseer is.”

Vanjaar het gemeenskapsleiers egter met ’n plan vorendag gekom om dié wetteloosheid hok te slaan.

’n Vermaakliksheidprogram, wat spesifiek op die jeug gemik is, is georganiseer en op die einste plek gehou waar die polisie in die verlede die meeste probleme met Guy Fawkes-wetteloosheid gehad het.

Die program het afgeskop met ’n optog, waarna ’n groot konsert gehou is.

“Ons het ook voor die tyd praatjies by skole gegee sodat ons kinders kon aanmoedig om Guy Fawkes op ’n positiewe manier te vier.”

Sefaley sê die veldtog het alle verwagtings oortref en dat minder as ’n handvol insidente van bandebrand gerapporteer is.

“In die verlede kon vredeliewende inwoners dit nie op die strate durf tydens Guy Fawkes nie. Vanjaar kon hulle deel wees van die verrigtinge. Ons vertrou dat ons volgende jaar op vanjaar se sukses sal kan bou.”