Kouga vier Madibadag

04 Jul 2009

DIE Kouga-munisipaliteit en Our Times nooi alle inwoners om betrokke te raak by die plaaslike veldtog wat beplan word ter ere van Suid-Afrika se eerste Nelson Mandeladag.

Nelson Mandeladag is ’n splinternuwe publieke vakansiedag wat jaarliks op 18 Julie – Madiba se verjaarsdag – gevier sal word.

Kouga-burgemeester Robbie Dennis sê die doel van die dag is om die lewe, waardes en idees van oud-president Mandela, wat vanjaar 91 jaar oud word, te vier.

“Madiba het die grootste deel van sy lewe gewy aan die opheffing van andere. Hy is wêreldwyd bekend vir sy welwillendheid.

“Die Kouga-raad nooi dus graag munisipale personeel én inwoners uit om hulde te bring aan sy wonderlike erfenis deur uit te reik na minderbevoorregtes. Elkeen van ons kán ’n positiewe verskil in iemand anders se lewe maak.”

Die munisipaliteit beoog om op Saterdag, 18 Julie, items soos kos, klere, komberse en speelgoed aan behoeftiges uit te deel.

“Ons doen ’n beroep op beide munisipale personeel en inwoners om tot hierdie veldtog by te dra. Gaan deur u kaste en kyk wat u het om weg te gee,” versoek Dennis.

Hy sê behoeftiges sal in al tien wyke met die hulp van wyksraadslede geïdentifiseer word en hulle geskenkpakke op Nelson Mandeladag ontvang.

Inwoners wat wil bydraes maak, word gevra om dit by Our Times se kantoor in St Francisstraat, Jeffreysbaai, af te lewer voor Donderdag, 16 Julie, om 4:30nm.