Wyksraadslid skielik oorlede

04 Jul 2009

EEN van die Kouga-raad se gewildste wyksraadslede is Sondagoggend na ’n kort siekbed oorlede.

ANC- en opposisie-raadslede is dit eens dat die dood van Mxolisi Samuel Swepu, beter bekend as “Oom Sam”, ’n groot leemte in die raad laat.

Hy was vir die afgelope drie jaar die raadslid van Wyk Ses (KwaNomzamo op Humansdorp) en het gedien as die voorsitter van die oorsigkomitee en as ’n lid van die finansieskomitee.

“Sy bydrae tot die raad en sy gemeenskap was van onskatbare waarde,” het Kouga-burgemeester Robbie Dennis gesê. “Nie net was hy ’n kundige op die gebied van finansies nie, sy blote teenwoordigheid het gesorg vir ’n volwasse kalmte by caucus- en komiteevergaderings. Ons gaan hom baie mis.”

Raadslid Swepu is gebore en getoë op Humansdorp en het op die oorgangsraad van hierdie dorp gedien voor Kouga se samesmelting.

Hy het sy opleiding aan die Universiteit van Fort Hare en die Universiteit van Port Elizabeth ontvang. Sy spesialiteitsveld was administrasie en hy het later ook by die Universiteit van Manchester in Engeland sy vaardigheid in hierdie veld uitgebrei.

Na afloop van sy studies het hy verskeie bestuursposte, beide in die privaat- en openbare sektore, beklee. Hy was ook van jongs af aktief betrokke by organisasies soos die ANC en UDF.

’n Herinneringsdiens in sy eer sal vanaand (Donderdag, 16 Julie) om 6nm by die KwaNomzamo-gemeenskapsaal gehou word. Sy begrafnis vind volgende Saterdag, 25 Julie, plaas.

Die raadslid was ’n wewenaar en laat drie kinders en ’n groot, uitgebreide familie agter.

Zamile Swepu, woordvoerder vir die familie, het gesê dat die raadslid se familie, kerk en gemeenskap sy heengaan diep betreur.

“My oom was ’n groot kerkman en sy hart was altyd by sy gemeenskap. Sy dood was skielik en ons gemeenskap is in rou.”